1

Binne ’n minuut nadat hy ’n teenverdowingsmiddel toegedien is, het Sylvester die leeu in sy nuwe kamp in die Addo-olifant Nasionale Park rondgehardloop dat die stof so staan.


HIER, KIETSIE, KIETSIE…



Port Elizabeth. – Met stofwolke en ’n sagte brulgeluid het die befaamde leeu Sylvester in sy nuwe tuiste in die Addo-olifant Nasionale Park opgespring en dadelik die naaste grensheining bestorm.

Die gestorm is opgevolg met twee harde brulgeluide en ’n bokspring – so goed as wat die verdowingsmiddel in sy bloed hom toegelaat het.

Die leeumannetjie wat twee keer uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het, is gistermiddag meer as 400 km van Beaufort-Wes tot in Addo vervoer waar hy nou in ’n kamp van 200 ha by Kuzuko Lodge sal woon.

2

Sylvester weeg sowat 180 kg. Dit kos ’n hele paar groot mans om hom uit sy krat te tel sodat hy in sy nuwe kamp in die Addo-olifant Nasionale Park kan wakker word. Foto’s: Werner Hills


Sylvester vorm deel van Sanparke se groter roofdier-program wat op goeie navorsing gegrond is, het Angela Gaylard, streekekoloog van Sanparke, gesê.

In die Addo-olifantpark word Sylvester as die alfa-leeumannetjie vir twee leeuwyfies hervestig.

Lara en Shereen, die twee leeuwyfies, is verlede jaar by Kuzuko Lodge hervestig nadat hulle teen alle verwagtinge in as welpies in Addo oorleef het toe hul ma, Gina, vermoedelik weens ’n slangbyt dood is.

Gister het die twee wyfies met ronde pense luilekker onder doringbome gelê in die teenoorgestelde rigting van die boma, waar Sylvester se hervestiging ’n klein skare omstanders gelok het.

Catherine de Lange, assistentbestuurder van Kuzuko, sê sodra Sylvester en die twee leeuwyfies vir mekaar ogies maak deur die draad, sal Sylvester saam met hulle in die 200 ha-kamp vrygelaat word.

“DIE TWEE LEEUWYFIES HET AL VRYDAGAAND ’N DRAAI BY SYLVESTER SE HOK GEMAAK.”



3

Lara en Shereen, die twee leeuwyfies wat hopelik die rondloperleeu gaan tem.


Vir Zimmerman is Sylvester se nuwe tuiste die begin van ’n gelukkige einde.

“Dit het net meer as ’n miljoen rand gekos om Sylvester twee keer terug te kry en vandag tot hier te bring. Maar ek glo hy sal geen rede hê om nou te wil ontsnap nie, veral nie met die twee dames wat vir hom wag nie,” het Zimmerman geskerts.

Volgens De Lange het die twee leeuwyfies al die veldwagters verbaas en tog gisteraand ’n draai by Sylvester se hok gemaak.

“Niemand het gedink daardie twee wyfies sal so vinnig ondersoek by Sylvester gaan instel nie.

“Dit is ’n goeie teken,” het De Lange gesê.

Intussen hoop John Adendorff, bewaringshoof van die Addo-olifant Nasionale Park, om binnekort nog ’n leeumannetjie in die boma by Kuzuko vry te laat om Sylvester geselskap te hou.

Article posted on Netwerk 24

WhatsApp chat