1

Die rondloperleeu Sylvester kom Vrydag by sy nuwe tuiste in die Addo-olifantpark buite Port Elizabeth aan waar twee leeuwyfies vir hom wag.

Die hervestiging van Sylvester is deel van Sanparke se predator-bestuursprogram, het Fayroush Ludick, streekwoordvoerder van Sanparke, Woensdag gesê.

Die driejarige leeumannetjie het in Junie 2015 sy naam gekry toe hy uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het. Met ’n span spoorsnyers op sy hakke het Sylvester drie weke lank vee en wild op nabygeleë plase gejag.

Hy het in dié tyd meer as 300 km tussen Beaufort-Wes, Leeu-Gamka en Fraserburg afgelê.

Toe hy oplaas gevang is, het hy dadelik ’n band met ’n satelliet-opsporingstoestel om sy nek gekry.

Die opsporingstoestel het op 28 Maart vanjaar aangedui dat Sylvester weer ontsnap het.

Sy tweede “uitstappie” was egter van korte duur en hy is weer drie dae later in die Nuwe­veldberge naby Beaufort-Wes gevang.

Sy toekoms was toe in die gedrang.

Uiteindelik is besluit dat hy na Addo verskuif gaan word.

“Die besluit om die leeu te hervestig is een van talle wat ons oorweeg het. Die besluit is die een met die meeste voordele vir die leeu,” het Ludick gesê.

Sylvester sal Vrydag, volgens Ludick, in ’n boma binne ’n 200 hektaar kamp by Kuzuko Lodge in die Addo-park ’n nuwe tuiste gegee word.

“Na wat verwag word sal die leeumannetjie (Sylvester) met die ander twee jong leeuwyfies, wat reeds in die groter kamp (van 200 hektaar) is, ’n band vorm en homself as die alfa-leeu vestig.”

Dié twee leeuwyfies Shereen en Lara het as welpies ook bekendheid in die media verwerf. Hulle het saam met hul broer, Robin, in Desember 2014 in die park vermis geraak nadat hul ma Gina vermoedelik weens ’n slangbyt gevrek het. Teen alle verwagtinge in het die welpies oorleef en is die drie daardie Januarie uitgeteer en honger langs ’n pad in die park gekry. Die twee susters is verlede jaar vanuit ’n boma in Addo park na die kamp van 200 hektaar by Kuzuko geskuif. Hier is hulle as welpies geleer jag deur klein, verswakte wild in die kamp te plaas.

Volgens Ludick is die langtermynplan- predatore bestuursprogram vir Sylvester en die twee leeuwyfies, om hulle in die groter deel van die park by Kuzuko vry te laat. Sodra die skeidingsheining tussen die buurplaas in die Darlington-afdeling afgebreek word, sal die trop in ’n gebied van sowat 60 000 hektaar kan jag.

Netwerk 24

WhatsApp chat