0ab3bad3b15946838b5d859ee1732fa0

“Kyk in sy oë. Daar is niks onderduims in hierdie leeu-oë nie,” sê Gerhard de Lange, neutbruin sterkgeboude man van die veld, wat kyk én dink soos ’n leeu.

“Sylvester is ’n ongelooflike leeu. Sy instinktiewe nomadiese lewensfase waarin hy was, het hom die bekendste leeu op die planeet gemaak en baie mense se lewensuitkyk teenoor leeus ten goede laat verander.”

De Lange is bestuurder van Kuzuko Lodge waar Sylvester deesdae só gelukkig tuis is dat hy net daar bly.

Roem

In 2015 het Sylvester wêreldroem verwerf toe hy twee keer uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het. Dit was omtrent ’n gestoei vir gesoute wildbewaarders en spoorsnyers om hom weer op te spoor.

Ná sy tweede ontsnapping is besluit om Sylvester eerder uit dié park na Kuzuko Lodge (Kuzuko beteken “plek van glorie”) te skuif, wat deel is van die groter Addo-olifantpark.

Oor Sylvester se jeukvoete toe hy nog leeu van die Karoo was, sê De Lange, is daar verkeerdelik na die leeu as droster en wegloper verwys.

“Hy was bloot net nóg ’n jong leeu in sy nomadiese fase wat sy instink begin volg het om uit dominante leeumannetjies se gebied te kom,” verduidelik De Lange, deesdae welstandsbewaker van dié vierjarige leeu.

“Alles wat ek weet van leeus, het ek geleer deur hulle dop te hou, nie uit boeke nie.”

‘Heel ander Sylvester’

De Lange wys na Sylvester, wat rustig onder ’n spekboom in sy omheinde geëlektrifiseerde boma lê, “Kyk daar hoe lê hy. Dit is ’n heel ander Sylvester as toe hy hier aangekom het. Ek weet hy is nou gelukkig. As ’n leeu so met sy rug na jou toe lê, is hy min gepla oor wat agter hom aangaan.”

Sylvester lê met ’n oer-natuurkalmte terwyl die wind deur sy koninklike maanhare waai. Styf langs hom lê Fielies, onderdanige leeumannetjie en een van die groot redes waarom Sylvester nou gelukkig is en sy nomadiese fase vaarwel toegeroep het.

“Fielies is sy koalisie waarna hy gesoek het. Dit is absoluut fantasties om te sien hoe gou hulle ’n band gevorm het.

“Sylvester het opgehou om die boma kloksgewys te patrolleer. Hy het begin brul, merk sy terrein en die twee mannetjies is baie spelerig.”

Wyfies wind-op

’n Paar honderd meter windop van Sylvester se boma af lê die voornemende liefdes, Nika en Angel. Hulle beloer die spul nuusmense behoorlik.

Sylvester se ontsnappings het gevolg ’n paar maande nadat Nika en Angel ook bekendheid verwerf het toe hulle uitgeteer in Addo opgemerk is waar hulle weke lank moes oorleef nadat hul ma, Gina, gesterf het, vermoedelik weens ’n slangbyt.

De Lange sit in sy Toyota Land Cruiser, klap op die stuurwiel en sê: “Hierdie is mamma.”

In die begindae toe Nika en Angel by Kuzuko aangekom het, het De Lange met dié voertuig in hul kamp van sowat 250 ha gery om hulle te monitor. Soos die kleinwild opgevlieg of weggespring het vir die naderende voertuig, het hulle begin leer om te jag. Dié leeuwyfies is nou twee en ’n half jaar oud. Sylvester het onwetend met ’n oplossing na vore gekom, want hy gaan leier word van dié trop.

Blinkoog

De Lange glimlag, “Dit is nie meer lank nie. So begin Desember is dit tyd. Dan gaan ons die hekke oopmaak vir Sylvester en Fielies om saam met die wyfies te wees. Sylvester se oë staan al sterk aan die blink vir hulle.”

Tog hoef niemand nou al ’n ooievaarstee te begin te reël nie. Dié wyfies het ingeplante voorbehoedskapsules wat vir die volgende twee jaar nog aktief behoort te wees.

Een van die redes hiervoor is dat die twee ou (dominante) leeumannetjies eers moet aftree en uit Sylvester se toekomstige loopgebied moet tree.

De Lange beplan om teen Maart 2017 dié twee maanhare na die Darlingtondam-gedeelte van die Addo-park te skuif. Dán sal Sylvester en sy wyfies die nuwe nageslag van leeus kan begin verwek . . .

En gebeur dít, sal dit ’n goeie einde vir ’n lang storie wees: “Sylvester, die leeu van moed wat oor hek en heining nuwe blyplek gaan soek en ná moeilike draaie sy plek van glorie en liefde gevind het.”

Kitsfeite oor Sylvester:

* Hy het in 27 dae 371 km buite die Karoo Nasionale Park afgelê.

* Hy het ’n gemiddeld van 13,7 km per nag geloop. Die verste in een nag was 39 km en die kortste 3 km.

* Hy het oor 27 plase geloop en 28 skape, ’n Nguni-bees en ’n koedoe gevang.

* Die spoorsnyspan het hom net vier keer in die 27 dae gesien.

* Drie Sanparke-voertuie het sowat 5 040 km gery op soek na Sylvester en die soektog het Sanparke byna R1 miljoen gekos.

* Hy het nie ’n saak met óf smaak vir vlakvark nie, want dit was nooit op sy Karoo-spyskaart nie

* Sylvester is uit die werpsel van Aardlam met óf Nossop óf Bitterbal as sy pa.

To view original article, click HERE

WhatsApp chat